Deur die wêreld beny

Deur Johannes Richter, Wynland

Lees die oorspronklike artikel hier

Suid-Afrika se oudste wingerde is nie bloot ’n aardigheid nie, maar verteenwoordig ’n erfenis van wêreldklas-kundigheid en -plantmateriaal wat die toets van die tyd kan weerstaan.

Twintig jaar gelede het Rosa Kruger as L’Ormarins se destydse wingerdboukundige die Kaapse wynlande van kus tot kus deurkruis op soek na die oudste wingerdblokke in die land. Die uiteinde was ’n meesterlys van sowat 97 wingerde ouer as 35 jaar. Haar werk sou die basis van Suid-Afrika se toonaangewende Old Vine Project (OVP) lê.

Die Heritage-seleksies

Met hierdie lys ou blokke, waarvan sommige uit die vroeë 1900’s dateer, het die OVP in 2014 vir Vititec genader om die belowendste klone te identifiseer en van virusse te reinig vir vermeerdering. “Ons het spesifiek blokke gaan uitsoek wat oor die een of ander besondere eienskap beskik,” verduidelik Rosa. Sommige het reeds ’n reputasie vir goeie wyn gehad, soos Chenin en Sémillon uit Skurfberg, ’n Cinsaut Noir van Kalmoesfontein en ’n raar Sémillon Gris uit Paardeberg. Ander, soos Piekenierskloof se Grenache, het weer besonder klein korreltjies gehad. “Ons het spesifiek stokke gekies met goeie genetiese materiaal wat ons wou dupliseer.”

Charles Visser, hoofwingerdboukundige by Vititec, het weggespring en drie stokke per kultivar per blok ingesamel. Hierdie materiaal is ná virusreiniging in kernblokke gevestig. ’n Plant word virusvry gemaak deur meristeme in ’n proefbuis op ’n agar-groeimedium te laat groei, waaruit ’n nuwe virusvrye plantjie (eksplant) ontwikkel. Die beste eksplante word verder vermeerder in potte van 30 plante in die kernblok en elke plant kan sowat 10 ogies lewer. Dertig plante sal dus sowat 300 entjies lewer.

Hierdie sogenaamde Heritage-seleksies staan tans in Vititec se kernblok in die Paarl. Op L’Ormarins se versoek is 300 stokke van sommige van die seleksies in 2019 geënt. Een is ’n Hanepoot van die plaas Gevonden wat uit 1910 dateer. L’Ormarins het eerste keuse opsie om die materiaal te vermeerder, maar daarna sal die entjies aan die res van die bedryf beskikbaar gestel word, sê Charles.

Internasionale belang

Die genetiese waarde van hierdie ou plantmateriaal is in 2018 beklemtoon toe Interloire in die Loire-vallei, Frankryk, Vititec genader het om seleksies uit Chenin Blanc-blokke ouer as 40 jaar in Suid-Afrika te maak. Interloire is besig om Frankryk se eie Chenin Blanc-versameling van sowat 300 verskillende klone met gehalte- genetiese materiaal uit ander wêrelddele uit te brei. Hierdie noue samewerking is moontlik danksy die bande wat Vititec oor die jare met ENTAV-INRA, sy eweknie in Frankryk, gesmee het. Vititec het in 2009 die regte vir die uitruil van gereinigde plantmateriaal tussen Suid-Afrika en Frankryk bekom.

Vititec het ook die OVP genader om geskikte Chenin Blanc-wingerde uit hul databasis te identifiseer. In Januarie verlede jaar het Charles en Rosa saam met Thierry Lacombe (INRA) en Virginie Grondain van die Franse Instituut vir Wingerde en Wyn (IFV) die blokke besoek en 96 Chenin Blanc-klone noukeurig volgens sekere uitgesoek.

Hierdie materiaal is nie vir produksie bestem nie. “Wanneer ou wingerde uitgetrek of vervang word, gaan daardie genetiese materiaal verlore en verskraal die genepoel,” verduidelik Charles. “Die Franse hou hierdie versamelings om hul genetiese verskeidenheid te bewaar. Die navorsing daarop sal eindelik weer terugvloei na Suid-Afrika toe.”

’n Slag teen rolblaar

Die grootste verrassing was dat 24 van hierdie Chenin-seleksies skoon getoets het vir rolblaarvirus (tipe 3) in Vititec se interne Elisa-toetse. Die seleksies is vir verdere ontleding na Waite Diagnostics in Australië gestuur waar dit vir nog 13 virusse getoets is. Uit die 24 was 10 skoon van alles waarvoor dit getoets is – onder andere rolblaarvirus tipes 1-9. Hoewel die term “virusvry” nie gepas is nie (die teenwoordigheid van ander virussiektes is nie uitgeskakel nie), verteenwoordig hierdie uitslag die beste moontlike resultaat wat behaal kan word. Vititec het ’n reputasie ontwikkel vir skoongemaakte plantmateriaal van hierdie gehalte.

Die betrokke klone was onder andere afkomstig van Basie van Lill, Joshua Visser en Henk Laing se wingerde in die Skurfberg-gebied naby Clanwilliam. “Die plante wat aanvanklik daar gevestig is, is waarskynlik van die eerste seleksies wat destyds deur die Suid-Afrikaanse departement van landbou skoongemaak is en aan Nietvoorbij verskaf is,” sê Charles.

Maar die feit dat hierdie stokke ná 50 of 60 jaar steeds geen teken van virusbesmetting toon nie – terwyl omliggende wingerde met verloop van tyd wel besmet geraak het – is merkwaardig. Die afsondering van die gebied en lae siektedruk is waarskynlik deurslaggewend, maar hierdie geharde Chenin-klone se ongelooflike prestasie verteenwoordig ook ’n belangrike oorwinning in die stryd teen rolblaar. “Dit is ’n bevestiging van Winetech se protokol om rolblaarverspreiding te beveg,” sê Rosa. Dit mag dalk selfs op sekere inherente weerstandigheid dui – beslis stof vir verdere navorsing.

Van die 96 Chenin-seleksies sal die eerste 10 vanjaar virusreiniging ondergaan. “Ons beleid is om alle seleksies weer deur die virusreinigingsproses te sit,” sê Charles. “Daar kan nog virusse teenwoordig wees wat nie met die bestaande toetse opgespoor kan word nie.” Dit behoort virusvry te wees, maar Vititec is nie bereid om enige kanse te vat nie. Die plante onder­gaan vanjaar hitteterapie. Dit neem omtrent drie jaar om skoon anderkant uit te kom en nog twee jaar om van 100 stokke na ongeveer ’n hektaar te vermeerder. Die geënte stokke van hierdie Chenin Blanc-seleksies sal dus in 2025 gereed wees.

Vititec se visie

Die OVP is vol lof vir die visie wat Nico Spreeth, uittre­-dende bestuurder van Vititec, getoon het toe hy destyds die projek se potensiaal raakgesien en gesteun het. Die skoon materiaal sal die eerste van sy soort in Suid-Afrika wees en is bewys van Vititec se onontbeerlike rol in die bedryf.

“Ons het nog nooit voorheen klone beskikbaar gehad wat van ons oudste en beste plantmateriaal skoongemaak en vermeerder is nie,” sê Rosa. Hoewel Vititec nie kan waarborg dat spesifieke eienskappe op nuwe klone sal oordra nie, bied hul skoonmaak en vermeerdering van sulke uitsoekplantmateriaal ’n ongekende geleentheid om hul bewese potensiaal vir ’n nuwe generasie van ewe gesogte premiumwyne te ontgin en te bewaar.

Suid-Afrika voeg meetbare waarde by tot die genepoel van variëteite wat hier verbou en gesuiwer word. Die Franse se belangstelling in ons ouwingerd-Chenin getuig hiervan. “Ons het baie unieke plantmateriaal wat oor die jare gemuteer het tot ’n volkome refleksie van waar dit staan – op ’n plek en in ’n klimaat wat eiesoortig aan Suid-Afrika is,” sê Rosa.

Kontak Vititec om die Old Vine Project se uitsoekplantmateriaal te bestel.

Share this